top of page
Search

Die toilet en die lang bene

In ons 40se lewensjaar is ek en een van my vriendinne vir die vakansie by ons strandhuis. As ons saam is, vergeet ek soms hoe oud ek is, dit voel meestal vir my of ons nog 21 is. Sy sien auras en haar bene is so lank soos my lyf. Mans kyk vir haar soos 'n hond vir 'n stuk steak. Sy verpes dit, maar dit laat my 'smile'. Ek is maar van die kort soort. My ouers wil dit nie bevestig nie, maar ek vermoed ek is in teetyd gemaak! 😆


As ons saam kuier gaan ons soms nogal bos. Ons kids was die vakansie by hulle pa's, so ons was bietjie losklos. Na 'n hele aand se kuier, kom ons terug by die huis. Ons is uitgesluit.

40 en uitgesluit! 😏 Lekker geswaai loop ons al om die huis en maak planne oor hoe ons gaan inbreek. Sy besluit op die badkamervenster, sy het die bene daarvoor. 😂 Ek is dankbaar vir vriende met lang bene en gaan wag solank by die deur.


Ek hoor 'n helse slag, en skrik. Sy kom maak die deur oop, giggel senuweeagtig en sê: " Ek het die toilet seat stukkend geval." Ons lag onbedaarlik. Nou is die hele huis seker wakker, hulle wil ons mos uitsluit! 🤣


Die volgende dag gaan lê ons in die poeletjies by die rotse. Darem wonderlik hoe seewater 'n babelas uit jou lyf laat sypel. Daarna het ons nuwe krag en gaan sit op strandstoele teen die graswal voor die huis. Ons giggel weer oor die gebreekte toiletsitplek, dit was 'n koekhou!

Soos die drawwers verbykom skree ons vir hulle "Hou bene hou" en gee elkeen 'n punt uit tien. Hulle kan maar net vir ons lag! Sommige van hulle trek swaar. Ek wonder hoekom mense hardloop as niks hulle jaag nie. 🤣


27 views1 comment

Recent Posts

See All

Gebede

bottom of page